Login
Login with your Novell credentials or register as an external user
Username:
Password:
Options
Home Home Page
Blog
Category
Article

"Plek"

Share this page

Maritsa van den Berg on 10-Dec-2012 07:32 PM

Ek wil vandag begin deur my te verstout om iets heel akademies aan te haal uit ’n artikel van my wat vroeër aanvaar is:

“Die verskil tussen plek en ruimte sentreer in die mens se vermoë om betekenis toe te voeg aan die ruimtelike dimensie waarin hy homself bevind. Waar ruimte deur Cresswell (2004:8, 10) gesien word as ongedifferensieerd, want ‘ongestruktureerd’ en dus ook sonder enige sosiale-, historiese-, politiese-, gender- of simboliese betekenis, is plek juis die teendeel: dit is ruimte waarop hierdie betekenisse geprojekteer word en/of wat daarvolgens gestruktureer word vanuit ’n antropomorfiserende perspektief. Waar ruimte dus meer gewig dra as ontologiese begrip, betrek plek ’n epistemologiese komponent, deurdat dit gaan oor die skep en oplegging van betekenis, wat uiteindelik die sinvolle bestaan van die mens in die bepaalde ruimte volgens bestaande konvensies moontlik maak (7, 11-12, 15, 109). Hierdie singewing geskied dikwels deur middel van ruimtelike naamgewing; pretendeer om iets te suggereer van ’n kollektiewe identiteit (of tree selfs as identiteitsmerker op); en skep dikwels ’n relasie met ’n persoonlike of kollektiewe historiese narratief en herinnering. Daardeur is plek ook nooit staties nie, maar altyd in wording” (ibid:3, 5, 9; Darien-Smith et al, 1996:3, 5).
 
Om vir ’n lang tyd in ’n nuwe plek woonagtig te wees, beteken iets soortgelyks soos wat hierbo beskryf word: ’n stadige verandering in die houding wat mens het jeens die ruimte waarin jy jouself bevind. Dit is ’n stadige metamorfose van ruimte tot plek – volgeprop met persoonlike ervarings wat uiteindelik herinneringe gaan word, visueel vasgevang op ’n foto, of sintuiglik en emosioneel geassossieer met ’n reuk, ’n manier hoe die son se lig val, of die flardes van ’n gesprek met iemand onbekend. Stadig maar seker leer ons Ithaca ken, of sal mens eerder sê leer Ithaca ons ken: want dit word die houer waarin ons ervaringe van hierdie tyd kan gooi – en hopelik vir altyd sal kan bewaar.
 
Dalk skryf ons volgende week iets oor die ekspressionistiese herfsskakerings wat mens elke dag hier oorval, maar ek wil darem net kortliks iets oor die visuele ervaring van Cornell-kampus sê. Op baie eerstejaars se hemde aan die begin van die akademiese jaar het die speelse woorde “Ithaca is gorges”, gepryk. En die “gorges” is “gorgeous”, selfs op kampus! Op watter ander kampus in die wêreld is daar watervalle(tjies), ’n uitkyk op ’n meer, in die herfs bome, bosse en rankers wat lyk asof dit aan die brand is soos wat die blare verkleur en groot, groen grasperke? Jips, dit is inderdaad Cornell. Redelik hoog geleë in Ithaca self is dit ’n stywe loop teen die bulte uit, maar die stap is ongetwyfeld die moeite werd. Miskien het ’n pedagogiese allegorie agter die uitkies van die ruimte vir die universiteit gesit, want dalk wou meneer Ezra Cornell aandui dat mens ook hard moet werk om die mooiste uitsig te kan kry. Hier word die kampus nie net besoek om akademiese redes nie – dikwels is daar besoekers wat by die uitkykpunte staan of mense wat foto’s van die mooi geboue en tuinlandskap neem.
 
 
As ek so hier rondloop, is ek reeds spyt oor dit wat so mooi is, maar een van die dae net ’n herinnering van laatsomer en herfs 2012 op Cornell-kampus sal wees. Gelukkig is die foto’s daar, maar uiteindelik skiet ook dit ver tekort. Besoeke aan nuwe plekke is altyd leersaam – veral aan instansies wat baie vir persoonlike navorsing beteken. Maar soms, net soms, moet mens jou ook net toespits op die besonderheid van ’n oomblik. Dit word uiteindelik die herinneringe wat jy op die landskap ingraveer.
 
              
 

Leave a Comment

Please login before posting a comment